Nuwe deur oop vir wyn
Nuwe deur oop vir wyn
Deur LUCILLE BOTHA
Tien wynplase het onlangs ’n ooreenkoms met die Suid-Afrikaanse drankhandelaarsvereniging (Salta) gesluit om ’n volhoubare verspreidingskanaal vir wyn na onder meer spazawinkels en gelisensieerde sjebiens te begin.
Volgens die Saint Danté-ooreenkoms sal die wyn versprei word aan drankondernemings wat lid is van Salta. Die wynplase is Blaauwklippen, Boland Kelder, Imbuko, Longridge, Oranjerivier Wynkelders, Raats Family Wines, Simonsig, Swartland Wynkelder, Ten Chapters en Villiera.
Die ooreenkoms is gesluit ná mnr. Eion du Toit twaalf jaar lank navorsing oor handelsmerkontwikkeling en etnografie gedoen het. Dit het onder meer getoon verbruikers wil ’n wyer reeks wyn op die rakke sien as wat tans die geval is. Verbruikers sien ook wyn, net soos whiskey, as ’n statusproduk. Al hoe meer van die swart middelklas drink wyn en wynprodukte.
Tien kultivars is volgens hul markpotensiaal gekies. Dit sluit in Pinotage (in die koffiestyl), Cabernet Sauvignon en Cabernet franc. Rosé en vonkelwyn (volgens die klassieke metode gemaak) is ook op die lys.
Dit sal by spazawinkels, tavernes, gelisensieerde sjebiens, braaiwinkels (“cheza yamas”) en leefstylsentrums versprei word. Die lys kultivars sal uitgebrei word namate die behoefte daarvoor groei.
Landbouweekblad, 9 Maart 2012 Bl. 100